Speel speel word ons slim

Coka Cola, Fanta, Sprite…

As jy nie weet waarvan ek praat nie, is dit tyd dat jy saam met my  kom sykousspring.  Dis ongelukkig so dat die elektriese baba-oppasser of altans, die televisie-stel, ons van waardevolle buite-speeltyd roof. Die eindresultaat daarvan is onder ontwikkelde kinders, wat die potensiaal het, maar sukkel om dit te bereik.

Kinders moet minder skermtyd kry en meer kaalvoet buite speel, want speel ontwikkel kinders se talente. Lynette de Jongh, departementshoof by die Laerskool Jan Cilliers se kleuterskool in Johannesburg, meen ouers hoef nie bekommerd te wees dat hul kind se verskuilde talente, verskuil gaan bly nie. Spel dek soveel fasette dat dit ook ‘n kind se unieke talente sal identifiseer. So skryf sy in die Rooi Rose van November 2011 in die artikel: Laat die kinders speel. Dit is nie nodig om jong kinders aan te veel sportsoorte bloot te stel wat hulle uitbrand nie. Mamma en pappa, laat die kinders speel!

Speel verbeter ons kinders se konsentrasie. Angela Hanskom, arbeidsterapeut en skrywer, skryf in die Vrouekeur van Mei 2017, dat:

Kinders sukkel om in die klas stil te sit omdat hulle swak balans en maagspiere het. Dit gebeur wanneer ons kinders te min geleentheid kry vir buitespeel en klim en klouter.

Angela Hanskom

Sy is van mening dat pouses moet langer wees sodat kinders meer kan speel en ek stem heelhartig met haar saam.

Speel verbeter sosiale sowel as kommunikasie vaardighede. Dit verwys na ‘n kind se vermoëns om met ander te speel, hoe om hulle self te help en selfbeheer toe te pas. Wietske Boon, arbeidterapeut van Centurion, skryf op haar webwerf, dat wanneer kinders speel of met ander in aanraking kom, leer hulle sosiale vaardighede aan. Kinders hanteer hul teleurstellings, trauma en konflik deur dit uit te speel. Wanneer kinders nie speel nie, kry hulle nie geleentheid  om hul emosies te verwerk nie.

Die voordele is oneindig, dus kinders moet minder skerm tyd kry en meer kaalvoet buite speel.

Coka Cola, Fanta, Sprite…

Ek trek sommer nou my skoene uit… wie wil kom saam spring?

1 Comment

  • Ek stem saam! Kinders speel nie meer nie!

Leave a Reply